Total Pageviews

Thursday, December 27, 2012

Weersiens 50 - 23 Oktober 2010

Let wel: Hierdie blog is vervang met die blog Weersiens 50 by die volgende adres:

http://www.weersiens50.blogspot.com



Vooraf

Die Hoërskool D.F. Malan in Crosby is ’n klompie jare gelede gesluit. Die geboue word tans gebruik vir die Raucall Skool wat deur die voormalige RAU tot stand gebring is.























Die skool sou vanjaar (2009) vyf-en-sestig jaar oud gewees het sedert sy stigting in Januarie 1944 as die Junior Hoërskool Crosby.

Hierdie blog is om verskeie redes saamgestel:

Omdat die betrokke skool nie meer bestaan nie, word 'n paar historiese brokkies aangebied om diegene wat aan die skool verbonde was, te herinner aan sy ontstaan en hulle eie verbondenheid binne bepaalde tydsgrense van sy bestaan. Uiteraard sal die hele tydspektrum van sy bestaan nie gedek kan word nie.

Omdat die opsteller in 1960 in matriek was - en 2010 die besondere groep se vyftigste herdenking sal wees - is hierdie blog voorlopig ook 'n poging om van die 1960-matrikulante op te spoor en besonderhede oor hulle hier te publiseer.

'n Paar historiese brokkies

Die eerste drie skoolhoofde



Vanaf Januarie 1947 was mnr. R.R.H. Franz hoof van die skool, tot met sy afsterwe in Oktober 1952.

Mnr. J.C. van Tonder beklee die hoofpos vanaf 6 Oktober 1953 tot aan die begin van 1960 toe hy tot inspekteur van onderwys bevorder word.

Nadat mnr. A.J. van Niekerk vir ’n jaar lank waargeneem het as hoof, beklee hy die pos permanent vanaf 1 Januarie 1961.
'n Jaarbladopstel uit 1949

My siel was leeg; niks kon dit vul tot nou dat ek die bande wat my gekniehalter het, losgeruk het. Nou het ek die dorheid uit my siel verban vir iets wat my rus kon bring. Ek het lank daarna gesoek,maar dit het my altyd ontwyk, sodat ek dit nou meer kan waardeer.

Soms, as ek die lentetekens in die natuur sien, dan dink ek aan haar, my stil vriendinnetjie, wie se afskeid my siel leeg gemaak het. As ek haar maar net meer waarder het, haar beter verstaan het, roep my siel. Sy het my egter net toegelaat om ’n klein deeltjie van haar vol lewe te sien.

Saam het ons gefantaseer. Die lente was vir ons die simbool van nuwe lewe; vir haar ook, het ons geglo , sal daar ’n tydperk van nuwe krag aanbreek, maar “ons vreugde waai - ’n ylblou lint, verlore fladdering—in die strawwe wêreldwinde, naak staan ons in die slagreën van die toorn.”

Maar U het ons gehelp, en haar invloed en herinnering bly steeds by ons. Dit sal nooit verlore gaan nie, want sy was nog maar ’n teer ontluikende bloeiseltjie wat ’n toekoms gehad het. Haar ideale kon sy nie almal uitleef nie, maar juis omdat dit almal edel was, sal haar invloed my altyd inspireer. In haar het die onblusbare vlam gebrand wat sy getrag het om ook in ander te laat ontvlam.

O Heengegane jaar, jy lê in my / onsegbaar heilig soos die maan op rose, / my oë is moeg, maar in my lewe bly / jou aanwesigheid, o wonder-brose.

Hierdie metafoor vir tyd, onder die titel Heengegane jaar, is geskryf deur Leonie Wandrag — St 9, 1949.

Die eerste matriekklas - 1950
























’n Brokkie van die jaarbladredaksie — 1953

“’n Jaar het weereens ten einde gespoed. ’n Jaar van lief en leed wat ons almal saam hier op die Crosby-Hoërskool gedeel het — hier op die hoë onherbergsame randjie waar die suidewind so snerpend kan sny in die winter — en soos dit hierdie jaar die geval was, ook in die lente.

… Nog onder die skadu van die rampe wat die skool verlede jaar getref het, het ’n nuwe ramp ons eensklaps op daardie heldere herfsoggend om tien-voor-elf getref. Ons hoor in ons verbeelding nog die geweldige slag; die skrikwekkende angsgeroep van paniekbevange kinders; en dan daardie onheilspellende stilte. Ons sien nog helder voor ons geestesoog hoe verwonde en verminkte kinders hulpeloos en ontredderd orent steier — en dan die vreeslike besef wat tot ons deurdring.”

En saakliker:

“Op 9 Maart het ’n ernstige ongeluk in die skool plaasgevind toe die veertienjarige Jacobus Jordaan … ’n bom op die rantjie naby die skool opgetel het. Aan die begin van die pouse het hierdie bom op die skoolterrein ontplof met die gevolg dat 34 leerlinge en mnr. A.F. Knoetze tot die hospitaal toegelaat is.”

Die St. 10-klas van 1958

Piet van Niekerk was so vriendelik om foto's van hulle re-unie tot my beskikking te stel vir publikasie. Enkeles word hier gepubliseer.






















Gister ...
           ... en vandag: St 10 (1958)

 
                                          Mej. E. McLean - klasonderwyseres 1958


Die St 10-klas van 1959


















Hulle hou reünie
































































Die St 10-klas van 1960

Belangrike opmerkings vir die beskou en lees van die blog:

Klik op 'n bepaalde foto indien 'n groter weergawe verlang word!

Nuwe herinneringe en reaksies sal vir 'n tyd lank in blou gepubliseer word om as nuwe bydraes uit te staan. Daarna sal dit weer na die standaardkleur verander word.

Van die reaksies en herinneringe sal by geleentheid elders as in die betrokke rubriek gepubliseer word om byvoorbeeld aansluiting te vind by relevante foto's.


In St. 7 - 1957


In St. 8 - 1958

In St 9 - 1959


















In St. 10 - 1960

Matriekklas 1960

Atletiekspan - 1960

Johan (Vermeulen) op pad wenpaal toe

'n (Vreedsame) middestad-optog

Hoofseun en hoofdogter: Christo van Tonder & Betsie Barnard


















Prefekte

















Uit Johan se foto-argief

Eerstespan (1960)
Rugbytoerspan






















































Johan en Josef (1960) / Kiewiet en Johan ryloop na Durban (1960)



















Johan en Willie speel in dieselfde rugbyspan na matriek (1962)



















Die een is geneem op Ellispark se hoofpaviljoen tydens ons Administrateursbekerfinaal teen Fakkel.

Op die foto is Fanie Nel duidelik waarneembaar asook mnr. Swanepoel langs hom (is ek reg Geskiedenisonderwyser ?) Mnr. Knoetze, in wat seker sy universiteitsbaadjie is, is ook sigbaar skuins agter mnr. Swanepoel. Terloops, my oorlede ma en pa verskyn ook op die foto, daarom is die foto vir my baie kosbaar.
















Die foto is geneem van mnr. Oswald Gerber (Kunsonderwyser - Johanna het in haar herinneringe na hom uitgevra) wat die telbord beman tydens skolesport As mens die foto vergroot, is die spoorwegsleeper-paviljoen in die agtergrond ook sigbaar Let op die oppervlakte van die atletiekbaan waarop mnr. Gerber staan.

Uit Ester se foto-argief




















Uit Chris se foto-argief

















Uit Kiewiet se foto-argief
























Dirk reageer

Dagsê Willie,

Ek lees nou Kiewiet se herinneringe op jou blog van die dag toe ou Pillie tydens klaswisseling gerook het wat dan ook tot sy skorsing gelei het. Ek wou dit ook vroeër genoem het maar was onseker of dit nie dalk aanstoot sou gee nie. Aangesien die voorval nou vermeld word, wil ek dit net in perspektief stel. Pillie het daardie pyp nie gerook omdat hy "'n statement" wou maak nie, dit was bloot 'n grap wat skeef geloop het.

Ek was kort agter ou Pillie terwyl ons met klaswisseling verby Mnr Flip Kok geloop het waar hy buite sy klas gestaan en pyp rook het. So met die verbygaan het ou Pillie uit 'n grap Flip Kok se pyp gevat en toe nog vir hom gesê "kan ek maar 'n paar trekke kry?". Flip Kok het ook nog daaroor gelag.


Toe ons verby Mnr A L Coetzee se klas loop waar hy juis in die deur staan, het ou Pillie weer aan die pyp gesuig en gemaak asof hy rook. Hy het toe ook die pyp na A L Coetzee gehou met "wil meneer 'n trek hê?" Dit was die vet in die vuur!


Tot vandag toe reken ek nog ou Pillie se skorsing was ongeregverdig veral gesien in die lig van die feit dat die insident plaasgevind het slegs 'n paar maande voor die einde van ons laaste skooljaar. Ek was daardie tyd, en vandag nog, oortuig daarvan dat ou Pillie dit nie uit disrespek vir óf Flip Kok, óf A L Coetzee gedoen het nie. Dit was bloot 'n grap, aangespoor deur die gevoel van opgewondenheid oor die naderende era van "volwassenheid" ná 'n skoolloopbaan van 12 jaar.


Het die meeste van ons dit nie ook ondervind en dinge laat doen wat ons andersins nooit sou doen nie?


Dirk

Uit Tina se foto-argief


Uit Tina se plakboek




Gister ...


daarna ... 





... en vandag (St 10 - 1960)




Chris van Tonder (Mei 2009)

Dennis Coetzee en sy vrou, Mona (3 November 2009)

Willie Botha en sy vrou, Elsabe (10 September 2009)


















Johan Vermeulen en sy vrou, Suzette









Betsie Dreyer (née Barnard)

Lees iets oor die wonderlike werk wat Betsie tans doen by http://www.beyersbytjies.co.za/index.php?option=com_content&view=article&id=80&Itemid=100

Tina de Groot (née van Dyk) en haar (oorlede) man, Emile.

Dirk Venter en sy vrou, Petro

Rudi Laubscher en sy vrou, Ora

Hendrik (Gerhard) Botha en sy vrou, Susan


















Ester Snyman (née La Cock) en haar gesin


















Kiewiet Pienaar en sy vrou, Priscilla.
Priscilla is self 'n oud-leerling van D.F. Malan. Sy het in 1963 gematrikuleer.

Erie Pretorius en sy vrou, Ria.

Jan Nienaber en sy vrou, Rosa (16 Mei 2010).

Vic Brummer en sy vrou, Marie (16 Mei 2010).




Stuur asseblief vir my 'n paar herinneringe, wat hier onder geplaas sal word, wat ons met mekaar kan deel. Ek sal met 'n paar begin. Ek hoop nie die jare het die korrektheid daarvan vertroebel nie.


• ... dat Chris se pa - wat nou ses-en-negentig jaar oud is - vir ons Wiskunde in St. 6 gegee het?

• ... die dag toe Pilly uit die bloute die landloopwedloop gewen het wat die begin was van 'n baie kort - maar sekerlik ook roemryke - atletiekloopbaan?

• ... dat van ons seuns - ek dink dit was in St. 9 of 10 - in die Wetenskapklas skerpioene in die meisies se passerblikkies geplaas het, en 'n ander keer water, en dat Bollies ons almal deurgeloop het omdat ons nie wou te kenne gee wie dit was nie?

• ... dat ons kadetkompanie somtyds, met die kadetorkes vooraan, deur die strate van Crosby gemarsjeer het?

• ... dat ons in die junior jare in 'n soort tuinbouperiode na skool gras moes plant?

• ... Van Johnson (mnr. Kotze) wat vir ons Engels gegee het in St. 7 (my pad het later jare weer met syne gekruis)?

• ... die keer toe André du Toit op pad vanaf Zeerust (waar ons rugby gespeel het) saam met 'n paar ander in die nag langs die trein gehardloop het toe dit baie stadig gery het - en uiteindelik die trein nie weer gehaal het nie, en die konsternasie daarna met Tiekie Marais?

Chris reageer

• My Pa het vanjaar op 12 Augustus 97 geword (wat is 'n jaar nou op amper 'n honderd?)

• Van Johnson was ook bekend as "Popeye the Sailor Man". Rum? sonder die raisins.

Johan reageer

• Ons het nie net na skool gras geplant nie maar ook die grondwalle by die korfbalbane langs die twee tennisbane met Spoorweg-"sleepers" gepak en voorberei om 'n paviljoen te vorm. Waar kry mens vandag so-iets?

• Die heining van die skool langs Foylelaan was 'n heining wat 'n sekere tyd van die jaar met rooi bessies oortrek was. Na skool smiddae het ons hande vol bessies verorber, beslis gehelp om ons eetlus te temper.

Johan onthou

By huissport-atletiek aan die begin van elke jaar (was dit Koedoes vs. Ribbokke en nog?) is 'n sak vol spykerskoene by die wegspringplekke neergesit. As jy nie wil kaalvoet hardloop nie, kies jy 'n paar wat jou pas, hardloop jou resies en gaan sit hulle terug in die streepsak vir die volgende ou wat met spykerskoene wil hardloop.

Johanna reageer en onthou

“Aai Willem

Die blog het so baie dinge van my skooldae laat onthou.

Johan praat die waarheid – ons het regtig daardie hele rugbyveld in sogenoemde sportperiodes gebou. Anders die papiere opgetel – dink dit was die meisies se werk.

Kan julle nog Juffrou Troskie onthou wat ons gedonder het oor die Latynse verbuigings, etc. Bets het altyd die bekende “We who are to die, greet you Emperor” gesê voordat ons klas toe gegaan het.

Dit was deur die gladiators geroep voordat hulle gaan veg het. En Tiekie (Marais) en die ou Biologieklas?

Boloog het ons ’n coke belowe as ons ’n fisikaprobleem kon oplos – dit was die grootste uitdaging, want cokes was baie skaars toe ons jonk was.

Tiekie het die seuns geslaan as die meisies nie goed kon onthou nie – so ons girls het maat geleer so dat julle kon vryspring.

Wat van Oscar Gerber – ’n baie eksentrieke kunsonderwyser met ongelooflike talent.

Ek kan onthou hoe ons meisies koeksisters moes bak onder Mev Sönghe en dan vir julle uitgesmokkel het.

Julle ouens het ook ons tragiese resultate van die Kookkuns verorber.

Kiewiet het een slag sy broek geskeur, toe het ek ingeglip in die Huishoudkundeklas en vir hom reggemaak – wonder of hy dit kan onthou?

Vrek – ons was so bang vir Jan Nel. Daar was gerugte dat die Onderwysdepartement hom verbied het om kinders te slaan – met so ’n reputasie sou geen onderwyser ooit dissiplineprobleme gehad het nie. Ek het julle ouens wat Boekhou geneem het bewonder dat julle “the wrath” van mnr. Swart weerstaan het.

Nou in terugblik het ons eintlik wonderlike onderwysers gehad. Juffrou McLean was fantasties, die arme mens wat ons klomp moes Engels leer. Shakespeare en Macbeth en Jufr Mentz – die goed wat ons uit die koppe moes leer – al wat ek nog kan onthou, was: “What you egg”

En die Wiskunde – hulle kon maar vir Christo daar gelos het – hy het eindelik vir ons Wiskunde geleer. Ek het op my gatvelle Wiskunde deurgekom.

Op ’n stadium was dit groot sport onder ons om mekaar se boeke deurmekaar te maak in die tasse en dan net vir sport ’n klip of twee by te sit sodat jy dit doodonskuldig na die volgende klas toe dra.

Mnr Knoetze – wat ’n wonderlike mens met ’n been wat af was as gevolg van die bomontploffing.

As mnr Van Tonder in die quad gestaan het terwyl ons klasse verwissel het, was dit die stilste klasverwissling.

Dan atletiek-interhoër in Krugersdorp – flou geskreeu vir Pillie, Erie, Rudie en Johan. Moet nie vir Charlotte vergeet nie.

Dan die rugby – onthou jy nog toe ouens van die Kaap by ons getoer het?

Dit was sulke eenvoudige en lekker dae.

Groete

Johanna”

Willie reageer

Ek onthou die Interhuis-huisport. Aan die begin van St. 6 is elkeen van ons in een van vier huise gedeel: Ribbokke, kleur: ligblou – onderwyser-organiseerder: J.P Coetzee; Duikers, kleur: geel – onderwyser-organiseerder: Fanie Nel; Koedoes, kleur: groen – onderwyser-organiseerder: J.C. Swanepoel (Chonky); Impalas, kleur: rooi – onderwyser-organiseerder: Chris Meyer. As ek reg onthou was ek, Johan en Christo Ribbokke, Kiewiet was ’n Duiker, Rudie was ’n Koedoe – en die ander kan ek nie mooi onthou nie. Dan moes ons tydens Interhuis elkeen ’n roset van die kleur van die huis dra.

Dirk onthou

Ek was in Crosby Laerskool, wat aan D.F. Malan gegrens het, en onthou nog die dag toe die bom by die hoërskool ontplof het. My suster was toe in D.F. Malan en ek sal nooit die angstige oomblikke vergeet toe ons van die ontploffing verneem het nie.

Ek wonder hoeveel van ons onthou nog die dag, ek dink ons was toe nog maar in standerd 6, toe Christo se pa die hele skool na skool gehou het om papiere op te tel en toe ons daarmee klaar was, hy ons in die binneplein laat bymekaar kom het om onder andere Sarie Marais en Die Stem te sing voordat ons huis toe is.

Of die skerpioene wat ons tydens speeltyd in die veldjie oorkant die skool onder die klippe uitgehaal het, en hulle dan saam met ’n bobbejaanspinnekop(?) in ’n politoerblik geskud het net om te sien wie die geveg wat daarop volg, sou wen.

Dan was daar natuurlik “Tannie Gwar” (mev. Van Zyl) se geel Goggomobielkarretjie wat telkens sy parkeerplek verruil het met ’n plekkie so mooi tussen die twee rugbypale! Wonder wat sal vandag gebeur as so iets plaasvind? Sekerlik ’n saak van kwaadwillige saakbeskadiging!

Ek was ook maar klein gebou (het eers na matriek werklik gegroei) en dan was dit altyd 'n gesukkel om 'n kadetbroek te kry wat behoorlik pas! Myne was altyd 'n “size” of wat te groot!

Standerd 8 was ’n jaar wat ek liefs wil vergeet. Dennis Coetzee en Johan Vermeulen sal seker onthou dat ons na die E-klas verskuif is omdat daar te veel kinders in die A-klas was. Wat 'n jaar! Mev. Van der Walt (ou Stiefma) het vir ons Wetenskap gegee en wat alles in daardie laboratorium gebeur het, kan mens nie hier plaas nie! Eienaardig genoeg, ek het baie met haar te doen gekry na matriek. Sy is ’n tante van my vrou, Petro van der Walt, en Petro het by haar geloseer toe ek vir haar gaan kuier het. Daar het ek uitgevind dat mev. Van der Walt die eerste vrou was wat ’n graad op die destydse PU vir CHO ontvang het.

Johanna, jy bewonder ons wat Boekhou by mnr. Swart (ou Pan) geneem het, maar vir my was hy die modelonderwyser – hy was opreg in sy doel om van ons eerbare en toegewyde volwassenes te maak. Hy het altyd sy klas met 'n “sedeles’-grappie begin en ons ook altyd bewus gemaak van die probleme wat vir ons sou voorlê in die toekoms (met verwysing na ’n swart regering) indien ons nie die nodige voorsorg tref deur onsself te bekwaam op akademiese gebied nie. Noudat ons kan terugkyk, sien ons hoe reg hy was met sy waarskuwings! Sal ek ooit die wit bordkrytmerke op sy swart broek se knieë (en in my boekhouboeke) vergeet? Ek wonder of jy hom nie verwar met mnr. Meyer nie. Hy was maar omgekrap. Onthou nog die dag toe hy ’n standerdnege-seun oor die balkon op die tweede vloer wou gooi terwyl ons Afrikaans by mnr. Nel gehad het en dat hy toe vir mnr. Meyer gaan keer het.

Johanna, daardie Wiskundeklas van Christo van Tonder sal ek ook nie maklik vergeet nie. Ek het halfpad deur die jaar besluit om maar liewer op my eie aan te gaan en het toe ’n vorige paar jare se vraestelle van die Departement van Onderwys bekom wat ek tydens Wiskundeperiodes agter in die klas gesit en deurwerk het. My taktiek het egter vrugte afgewerp want ek het ’n slaagpunt in die eindeksamen behaal.

Hendrik (Gerhard) onthou

Kan goed onthou hoe akkuraat ou Nic Swart (ek verbeel my sy bynaam was Ou Pan), die boekhou onnie met u stuk bordkryt kon gooi as die manne dalk sou oortree het in sy klas. Hy het ook so ʼn huppel in sy stap gehad en die regter broekspyp was telkens wit van die kryt want hy’t die gewoonte gehad om af te buig en sy regterknieg te raak as hy stap.


Tina skryf na aanleiding van die dagboek wat sy, Lidia, Trix en Elza in 1959 gehou het …


3 Mei 2010


Ai, as mens al hierdie nonsens weer lees is dit g’n wonder dat die onnies se geduld soms handuit geruk het nie! As ek nou terugdink, weet ek ons het die BESTE onderwysers gehad.


Willie, jy moet maar spoeg en plak (soos ons gesê het toentertyd). Ek stuur die twee los bladsye saam. As jou oë dit nog kan hou of as jy kans sien vir die ontsyfering van amper vyftig jaar gelede – die een is in matriek geskryf en die ander een dan seker ook. Daar waar ons skryf oor die rokke en wie gevra gaan word. Ek weet nie waar ons kans gekry het om skoolwerk te doen nie – g’n mens kan konsentreer as daar so ’n geskrywery is nie; soms by die huis en soms in die klas!! G’n wonder my uitslae was soos dit was nie.


Die laaaste stuk het ek in potlood geskryf – weet nie wanneer nie. Dink dit was ook in matriek met die jaarlikse “sangfees”; toe was dit nog nie Eistedfod nie – dit was in die Johannesburgse stadsaal gehou. Dit was seker pouse of iets maar ons was veronderstel om stil te wees agter die skerms. Sulke aanmekaarstoele het daar gestaan, naby die kant van die verhoog, en daarop het ons toegesak en amper omgeval. Dan sou ons met stoele en al oor die verhoog getuimel het na benede en ’n been of arm of nek gebreek het.


Toe alles klaar was, het ons vier vanaf die stadsaal huis toe gestap – tienuur (22:00) se kant. Bid jou aan! Geen selfone of ouers wat ons kom haal nie. So het ons elke jaar Randse Skou toe gegaan – deur Vrededorp en die begraafplaas en laatmiddag weer terug huis toe met sakke vol rommel – alles gratis en verniet, veral die eetgoed wat destyds by elke stalletjie was om te proe.


Verder het ons een maal ’n termyn by Elza se huis ’n “fancy dress”-partytjie gehou. Geen ouer naby nie! Behalwe as Elsa se pa vir ons die tent in die agterplaas opgeslaan het. Dan het ons daar oornag en skaars geslaap. Dis daar waar Henning en Jannie in die prentjie gekom het. Hulle het glo in die donker op die muur gesit en ons afgeluister. Dis nou wat Elza gesê het – weet nie of dit waar was nie.


Snaaks dat ons nie aan sport deelgeneem het nie. Ek weet net ou Tiekie het my een keer op die atletiekbaan laat aflos hardloop. Dit was bedroewend! Later jare het ek maklik vyf kilometer elke middag gedraf, behalwe Sondae. Ek en die buurvrou het kos op die stoof gehad; dus moes ons wikkel. Die tyd was net so 35 minute. Dit het jare so aangehou tot hulle getrek het – toe het ek alleen gedraf. Nou is ek te bang vir al die onheile. O ja, nou stap ek net.


Van die klasse in die algemeen onthou ek net die aangename dele. Daar was maar min dae dat ek nié uitgesien het om skool toe te gaan nie – veral die Kunsklas was al waarvoor ek bestaan (geleef) het. Dankie tog vir ’n onnie soos Oswald Gerber. Moet sê ou Nel se peries was ook hoogtepunte! Hy het my lief gemaak vir prosa en ’n mens se universiteitsdae was maar net ’n voortsetting daarvan.


Ek onthou ook die rampklas, naamlik Wetenskap. Arme ou Bollie. Hy het mý eendag toegevoeg: “As Tina van Dyk Wetenskap kan slaag, kan énigeen dit deurkom.” Verbeel jou! Weet ook nie hoe ek dit deurgeskraap het nie. Ou Varkie was ook ’n dierbare mens. Dis aan hom te danke dat ek later al die Duitse drinkliedjies uit my kop geken het en jolig kon saamsing met die sing-songs. Mev. Söhnge het, dankie tog, met haar kore en afrigting my liefde vir Bach, Beethoven, Mozart, Vivaldi, ens., ens. vasgelê. Tot vandag toe skilder ek (dit was nou taamlik lanklaas!) met klassieke musiek.


Ek het drie-en-veertig jaar lank skoolgehou: vanaf graad een – genadiglik net vir een termyn – tot standerd tien by Tom Naudé Hoër Tegnies. Daar het ek, genadiglik, die matriekseuns tydens LO-periodes in die somer laat swem. Gelukkig net vir een termyn. Matriekseuns is beslis nie bang vir ’n jonge juffrou wat niks van LO af weet nie. Ek was menigmaal papnat soos hulle “bomme” gemaak het deur naby my in die water te spring. Want: ’n onnie mag daardie dae nie gesit het nie – moes toesig hou dat hulle mekaar nie vermoor en versuip nie (askies vir die plat woord, maar daar is niks anders wat beter beskrywend as dit is nie). Tog het elke kind diep in ’n mens se hart kom kruip. Later jare was ek betrokke by ’n swart onderwyskollege buite die dorp en daar het ek Arts and Crafts en hoe om onderwyshulpmiddele te maak, gegee; dit wil sê modelle bou, mosaïek, drukwerk, maskers, kaartwerk, ens. Geen naskoolse aktiwiteite nie. Dit was ’n fees! Daar het ek afgetree. Ek kan boeke skryf oor skoolhou, maar ek weet ’n klomp van ons het voor in die klaskamers beland.


Die enigste plek waar ek my moses teëgekom het, was in die Spesiale Skool in Pietersburg waar kinders met gebroke geeste uit ramp-huwelike gekom het; ook outistiese kinders – noem maar op. Daarvoor het ek ’n diploma van twee jaar vir spesiale onderwys geloop, maar ek kon naderhand net nie meer kinders met grootmens-liggame en die breinvermoë van ’n driejarige hanteer nie! Dit het my gebreek. Vyf jaar was te lank. Die meeste van die personeel het ook daar siek geword en padgegee. Dis nou Betsie se gebied daardie. Sy is opgelei daarvoor.


Toe ek ’n heerlike paar weke by Willie en Elsabe deurgebring het en gesit en luister het na Kiewiet en Dennis en ook Kerrie se vertel van die “ducktails” – hoe Kiewiet-hulle saam met die meisies weggehardloop het as die “ducktails” wou baklei daar naby die Roxy – het ek weer verlang na al die ongekompliseerdheid van my jong dae. Dit was so lekker om al die ou maats weer te sien, ook vir Hendrik, Jannie en Vic.


Nou is ek ’n regte, egte afgetredene wat die hele wêreld deurkruis – wat ’n lekkerte! Ek bly hier op Zimbabwe se voorstoep, maar dis pragtige bosveld en lekker weer.


Tot ons mekaar weer sien op 23 Oktober 2010. Lekker bly!


Tina

Tighy skryf op 25 Mei 2010 onder andere soos volg:

Hallo Willie



Dit is nie net julle wat kuier voor die tyd nie - ek het vir Joe en Charlotte gaan kuier in die Paarl. Ons is van plan om so ’n wegbreek-naweek Franskraal toe te gaan iewers in Junie - ek moet net nog die reëlings tref. Dan vra ons sommer vir Rudi om van Napier deur te kom - dan is dit nie so ver vir hulle nie.


Sal jou op hoogte hou.


Hoe kan 'n mens Esther van Heerden vergeet? Sy was altyd my held - het hekkies soos min gehardloop.


Hoop dit gaan goed met al die ander ouens - die Bulle moet net Saterdag wen!


Baie mooi groete van vyftig jaar terug.


Tighy


Oud-klasmaats vir reünie

1   Barnard, E.H.
2   Bekker, A.P.H

3   Booysen, S.J.
4   Botha, H.G.
5   Botha, W.J.
6   Brits, F.P. ?
7   Britz. W.H. ?
8   Brummer, L.J.
9   Coetzee D.J.M.
10 Coetzee, J.A.
11 Cruywagen, I.S.
12 De Beer, H. ?
13 Du Preez, I.G. ?
14 Fick, D.F. ?
15 Fourie, H.J.
16 Gildenhuys, P.
17 Goldschagg, B.
18 Havenga, H.M. ?
19 Haylett, G.W.T.
20 Jansen van Vuuren, D.J.P.
21 Jordaan, H.P.N.
22 Joubert, S.J. ?
23 Kotze, J.F.
24 Kruger, C.P.
25 La Cock, J.E.
26 Labuschagne, J.J. ?
27 Laubscher, R.J.
28 Maritz, P.N.J.
29 Nel, C.
30 Niemand, N.J. ?
31 Nienaber, J.H.
32 Nieuwoudt, C.S.
33 Oosthuizen, M.P.J. ?
34 Pienaar, A.J.P.
35 Pretorius, C.P.J. ?
36 Pretorius, E.
37 Rossouw, M.M.
38 Shawe, F.E.J.
39 Smit P.J.J. ?
40 Smith, S.E.
41 Smith, E.M.H. ?
42 Swanepoel, W.B.H.
43 Theron, L.
44 Tighy, J.M.
45 Van der Bergh, J.J.P. ?
46 Van Deventer, M.S. ?
47 Van Dyk, C.M.
48 Van Niekerk, E.
49 Van Straten, L.S. ?
50 Van Tonder, J.C.
51 Van Vollenstee, M.J.M. ?
52 Venter, C.J.H. ?
53 Venter, D.P.
54 Vermaak, A.J.
55 Vermeulen, J.
56 Vogel, J.A. ?


Persone reeds opgespoor



Die reünie - Saterdag 23 Oktober 2010

Die plek



Sommer-net-foto's en ander publikasies

Stuur gerus sommer-net-foto's vir plasing hier.



Kiewiet-hulle kuier by Willie-hulle: 24 Januarie 2010.


Hendrik-hulle kuier by Willie-hulle: 11 Februarie 2010

Tina hou mini-reünie

Op pad na Polokwane


By Tina se huis

Tina en enkele van haar skilderye

Tina en Kerrie



Ons (Tina, Kiewiet, Hendrik, Dennis en Willie) vier Tina se verjaarsdag: 3 April 2010

Andermaal Polokwane: 7 April 2010


Sondag 16 Mei 2010. Ons sien Jan (Nienaber) en Vic (Brummer) na al die jare




Ons en familie en vriendin

Lidia en familie

Mini-reünie in die Wes-Kaap

Bydrae vir blog van Charlotte Coetzee (Kruger)


Met groot opgewondenheid het ons op 4 Julie die tog na Hermanus aangepak om ons ou skoolmaats te ontmoet: Ons het Johanna Tighy, wat al by ons in die Paarl kom kuier het, in die Strand opgelaai om Rudi en Ora Laubscher en Johan en Suzette Vermeulen daar te ontmoet. Wat ‘n heerlike dag wat gans te kort was. Ons kon nie genoeg ons eertydse onderwysers lof toedig nie (al was sommige van hulle oneindig vreemd met snaakse gewoontes). Hul was net die beste. Uit die aard van die saak was ons uiterlik vir mekaar totale vreemdelinge, maar ons karakters nog dieselfde;. Rudi wat altyd die verstrooide een was, Tighy nog altyd die ou spontane self en Johan en Joe met hul pittige sê-goed.

Van links: Rudi Laubscher, sy vrou Ora, Johan Vermeulen, (Johanna) Tighy, Josef Coetzee, Charlotte Coetzee (Kruger) en Suzette (Johan se vrou.)


Lewensbeskrywings

Diederik (Dirk) Venter


Ek is gebore in Randfontein maar kort daarna het ons na Braamfontein verhuis waar ek my kleuterjare deurgebring het. Na ses maande in Braamfontein Laerskool verhuis ons na Crosby en ek voltooi my laerskoolopleiding by Crosby Laerskool.

Ek matrikuleer in 1960 by Hoërskool D F Malan.

My grootste begeerte, as kind, was om eendag in die teologie te gaan studeer. ’n Mens se lewenspad word egter nie deur jouself bepaal nie en omstandighede noop my om ’n loopbaan in die bankwese te aanvaar. Op 8 Desember 1960, ’n dag nadat ek vir die laaste keer skool toe is, begin ek dus by die Newtowntak van destydse Barclays Bank te werk.

In Februarie 1961 begin ek met militêre diensplig by 57 K & T-Kompanie. Wat ’n mors van tyd! Al wat ek daaruit gebaat het, was ’n goeie begrip van alle vlakke van die samelewing.

Ek tree op 6 Maart 1965 in die huwelik met Petro van der Walt en presies ses jaar later, op 6 Maart 1971, is ons eerste seun gebore en ons tweede seun die jaar daarna.

Vroeg in my loopbaan het ek besef dat ek, as Afrikaner, hard sal moet werk in ’n omgewing wat oorheers word deur Engelse wat destyds maar min respek vir my geliefde volk gehad het. Ek dink dit is dan ook hierdie besef wat my aangespoor het om niks minder as die beste te lewer én te verwag nie. My eerste doel was dus om die Diploma van Die Instituut van Bankiers te slaag – wat ek dan ook vyf jaar na diensaanvaarding bereik het.

Ek bestee die eerste helfte van my loopbaan in drie takke, naamlik Newtown, Braamfontein en Carltonsentrum. In 1979 is ek, grootliks as gevolg van die feit dat ek by Unisa begin studeer het vir ’n BCom-graad, ’n pos aangebied in die Rekeningkundige Afdeling by hoofkantoor. Ek verwerf die graad BCom in 1985 met Ekonomie en Rekeningkunde as hoofvakke.

Gelukkig getroud en met ’n redelike mate van sukses in my loopbaan, het die lewe my en my gesin baie goed behandel tot in 1995 toe ek met kanker (’n karsinoom in my neus-, keel- en oorholte) gediagnoseer is. Genadiglik was die behandeling daarvan suksesvol maar die chemoterapie, en veral die radiobestraling, het sy tol geëis. Ek het dus die opsie van vroeë aftrede in Maart 1998, as gevolg van regstellende aksie, onmiddellik aanvaar.

Teen hierdie tyd was ons al vir agt en twintig jaar baie gelukkig woonagtig in Alberton maar na vyf inbrake terwyl ons slaap, en dit binne ’n kwessie van ’n paar maande, besluit ons genoeg is genoeg en verhuis ons in Oktober 1998 na Stilbaai. Hier het ek, van die huis af, raamwerk vir die kunstenaars in en om die dorp gedoen terwyl Petro haar op haar skilderwerk toegespits het. Die raamwerk het egter so uitgebrei dat dit naderhand in ’n agt-tot-vyf-bedryf ontwikkel het. Dit het ons beroof van daardie paar ure saam op die strand of sommer net rondry in ons mobiele woonwa om te gaan blomme kyk. Ek het dit dus in 2008 gestaak en die masjinerie verkoop.

Ek het ook vir ’n paar jaar in ’n koor, die Bel Canto-sangers o.l.v. Bettie Niehaus, gesing. Wat ’n wonderlike ervaring was dit nie!

Hendrik (Gerhard) Botha


Goudstadse Onderwyskollege, slegs een jaar daar deurgebring (1961).

Gaan noodgedwonge werk by die Stadsraad van Johannesburgse in die tesourie-afdeling vir so 3 jaar. In Augustus 1964 verander ek van werk en betree die privaatsektor by Mitchell Engineering, later L & C Steinmuller (stoomketels vir ESKOM gebou, nie klaviere nie).

Vroeg 1980 begin ek werk by die SAUK as interne ouditeur en gaan maar deur die proses van bevordering totdat ek in September 2007 aftree. Dis hier waar ek verneem het dat Hein Jordaan ook by die SAUK werksaam is, maar hy is alreeds een van die topbestuur en ek sien hom net so nou en dan in die gange. Dis ook hier by die SAUK dat ek my vrou, Susan, ontmoet en ons trou toe in 1982, my tweede huwelik. Ons het 2 kinders, ʼn seun en ʼn dogter, Johann en Elzisha. Susan is ook afgetree (2003) weens swak gesondheid, sy is middel 90’s met meervoudige sklerose gediagnoseer, maar die simptome is darem in remissie en sy funksioneer heel normaal. Sy het ook lang jare diens by die SAUK, lank in menslike hulpbronne en later in die inligtingstegnologie om die personeelbestuur- en vergoedingstelsels te ontwikkel en te bestuur. Sy het ook by RAU geswot, M.A. in kommunikasie, bid jou dit aan.

Ek is in 1965 met Rina Edwards getroud. Sy was ook ʼn leerling by D.F. Malan, maar voltooi haar skoolloopbaan by die Handelskool in die stad. Ons het 2 seuns Gerhard en Werner. Ons is in 1979 geskei.

Ek studeer B.Comm by Unisa met gemengde sukses, meesal minder sukses. Vanaf 1969 tot 1971 swot ek B.Comm by die destydse RAU. Nou het ek nie eers meer ʼn alma mater nie, en ook is die skool nie meer nie, laat jou dink, of hoe?

My tydverdryf is veral om gholf te speel en takies in en om die huis, ʼn geval van ʼn ou man wat ʼn ou huis moet onderhou, maar dis terselfdertyd goeie terapie. Ek is ʼn lid van die SAUK se Pensioenfonds se raad van trustees en as sodanig is die belangstelling in die ekonomie ook belangrik om ʼn sinvolle bydrae te kan lewer.

As ek geleentheid kry dan duik ek ook nog SCUBA en ek doen ook vlieghengel. Ek het vroeër vanjaar vir die eerste keer saam met my broer in Namibië naby Aroab gaan jag en my eerste gemsbok geskiet, beplan om weer volgende jaar ʼn draai in die jagveld te maak.

Die leeuspan is maar nog altyd my span, maar ek praat nie te veel oor die manne nie, ons sal weer eendag in rugbykringe indruk maak.

Ons hou daarvan om ook rond te ry, blomme kyk, Namibië besoek, beplan Mosambiek volgende jaar, ook weer Kaap toe ʼn slag. Botswana is op die planne en ook vir my seun Werner in NZ gaan kuier.

Gedagtes oor die verlede
Naskrif vir die verlede ...

'n granaat het geval en oopgebars!

hoe groet 'n mens ...
as jy nooit afskeid geneem het nie?

toe die toekoms gewelf was met drome wat die heelal verswelg het -

toe verwagting en versugting die skarlaken brand in jou hart geblus het -

toe die baie paaie uitgeweb het tot by die vae einders van jou bestaan -
toe die terugkom en die weersien slegs die rooi glimming op die horison was -

of bely jy net langs die rooi pitte van die oopgebarste granaat ...?


Matriekafskeid

Toe het hulle nie eens foto's van ons geneem nie!

En nou ...?

Nou is dit net vergeet se voetspore wat stofgetrap in die newels verdwyn ...
Nou is dit net koestering wat met die groot heimweë versmelt ...
Nou is dit net óns wat oorgebly het - wat teruggaan na 'n wêreld van nooit-weer-sien ...

En ons sal probeer onthou - die nabyheid en die saamwees ...

En ons sal foto's neem - foto's wat niemand eintlik meer wil sien

Followers